Gisteraand kyk ons weer na die weeklikse uitsending van Move Abroad (a.k.a. Carte Blanche). Een van die insetsels handel oor die nuwe fenomeen: FREEMALES. [vrylik vertaal as (ver)LOS(te) VROUE
]
For crying in a bucket! Why would you want to wear a label! Is jy opsoek na ‘n identiteit?
Wat is ‘n Freemale? Dit is vroue wat kies om enkellopend te bly en op hul loopbane te fokus; die eertydse oujongnooiens, as jy wil, wat in die 21ste eeu inbeweeg het. As mens na die onderhoude luister, kan ek nie anders as om te wonder waarom hulle op ‘n identiteit aanspraak maak nie. Is daar nie genoeg “labels” daarbuite nie. Moet jy regtig iewers in ‘n vakkie pas?
Van die dames in die onderhoud, blameer mans vir die fenomeen. Mans dring immers daarop aan dat vrouens hulle natuurlik plek in die huishouding inneem en ‘n tuiste skep terwyl hulle jag. Daar is sekerlik sulke mans, maar het ‘n vrou dan nie die keuse met wie sy trou of haar lewe deel nie? Is ‘n vrou stom in ‘n verhouding?
Op ‘n vraag oor hoekom sy kies om enkellopend te wees, verduidelik die een dame dat ‘n verhouding jou keuses bemoeilik in die sin dat elke opsie eers uitgeklaar moet word met die ander helfte. Sekerlik nie? Is vertroue nie deel van ‘n verhouding se fondasie nie? Vat dit regtig ‘n halfuur om te besluit wat om vir aandete te kook/kry? Hoe goed ken jy dan jou anderhelfte?
Ek en vroulief het die episode gekyk en ons kon nie anders as om daaroor te lag nie. Is daar regtig soveel ongelukkige verhoudings daarbuite, waar die vrou onderdruk word en nie op ‘n gelyke met haar man/lewensmaat staan nie? Is daar regtig soveel stom anderhelftes daar buite?
Ek is dan sekerlik die gelukkigste mens op hierdie aarde. Ons het ‘n oop verhouding waar alles bespreek word, tog het ons die vryheid om te kan kies sonder die ander se “toestemming”.
Dit raak vir my duidelik dat daar vele verhoudings is waarin mense nie kommunikeer nie en sonder kommunikasie, hetsy verbaal of te nie, is enige verhouding verdoem. Enige verhouding kan verryk word deur kommunikasie. Ek daag jou uit om jou verhouding te maak werk.
NS: ‘Skuus as ek op enige van die (ver)LOS(te) VROUE se tone getrap het
