Mev Rendier het ons onlangs verras met ‘n naweek weg na die White Water Lodge net buite Stanford. Vrydagmiddag vroeg het ons sak en pak die pad Overberg toe aangepak. Nina het mooi soet agter in die kar gesit en met Barney in my agterkop het ons die stof pad na die lodge bereik. Nina was verskriklik opgewonde oor die koeie, skape en bokke langs die pad. Die lodge self het ‘n paar dwerg perde wat baie vriendelik is.
Daar aangekom en ons word begroet deur die mooiste blyplek wat ek in ‘n lang tyd gesien het.
Die luukshede in die 1846 House is onbeskryflik. Die kamers is pragtig uitgelê, met en suite badkamers. Die kuier areas is enorm groot met ‘n lekker kaggel vuur(en oorgenoeg hout) om jou deur die natste, koudste aande te kry. Die kombuis is enige kok se droom!
Die lodge het ook 3 damme met reënboog forelle en kleinbek baars in en daar is ‘n ook ‘n gedeelte van die Kleinrivier wat beskikbaar is om vir kleinbek baars te hengel. Ander aktiwiteite bestaan uit staproetes, quad bike uitstappies en net doodgewone ontspanning. Die gronde huisves heelwat voëls, waaronder 3 visarende.
Die hengel is nie die moeilikste nie, maar met die weer wat ons oor die naweek beleef het, was dit nie die maklikste plek om ‘n vlieg deur die lug te stuur nie. Ons was gelukkig die ergste van die storm gespaar, so Vrydagmiddag en Saterdag kon ons die water aandurf. Sondag was die storm in volle swang en moes ons koers kies huistoe.
Gaan maak gerus ‘n draai by die White Water Lodge. Dis ‘n naweek weg wat enige siel sal verkwik.
