Opsoek na ‘n lekker plek om te eet in Stellebosch? Gisteraand het ek en Mev Rendier die Wijnhuis ontdek. Wat ‘n gesellige plek, met vriendelike kelners en ‘n fantastiese atmosfeer.
Die Wijnhuis is geleë op die hoek van Adriga- en Kerkstraat en bestaan uit ‘n restaurant en wynverkope afdeling. Die restaurant is op die boonste verdieping, geleë tussen honderde bottels van Suid Afrika se beste wyne. Die kos is smaaklik en die bediening stylvol. Jy kan verwag om tussen R70-120 vir ‘n hoofgereg te betaal. Voorgereg en nagereg kom in op so R40 elk.
Ons was baie haastig en het dit bekend gemaak met ons aankoms. Binne 10 minute vandat ons die bestelling geplaas het, was ons kos op die tafel. Voorwaar puik. Ek het die “Spring Chicken with soy, honey and ginger” gehad en Mev Rendier die Calamari met chilli. Baie smaklike disse. Nagereg het bestaan uit Malva poeding en sjokolade tert – uit die boeke uit!
Bederf jouself of iemand spesiaal en geniet ‘n aand uit by die Wijnhuis.