Almal het al sekerlik van die “koffie” pinotage gehoor. Francois Roode is die wynmaker en ons het die afgelope Saterdag op Diemersfontein ‘n draai gaan maak.
Hoe kom jy daar? Vanuit die Kaap ry jy noord met die N1 tot by die Wellington afrit. Volg die pad totdat jy by ‘n T-aansluiting kom. Draai regs Paarl se kant toe. ‘n Paar honderd meter af in die pad, sal jy die Diemersfontein bordjie aan jou linkerkant gewaar.
Middagete was aan die orde van die dag en die Seasons Restaurant het glad nie teleurgestel nie. Die pryse is effe hoog, maar daar is tog ligte etes. Ons tafel het die Hoender met camembert burgers, asook die Lamsvleis met bloukaas burgers geniet. Trommel dik is ons oor na die wynproe lokaal.
Diemersfontein het 3 reekse: Carpe Diem, Diemersfontein en Thokozani. Carpe Diem is die premium reeks en Thokozani is deel van Diemersfontein se bemagtigings projek.
Nodeloos om te sê was ons daar om Pinotage te proe. Die Carpe Diem het ‘n ongelooflike neus en is klassiek Pinotage. Die Diemersfontein, daarenteen, is modern, liberaal, anders! Die neus is sterk koffie gemeng met sjokolade. My kennis van koffie is beperk, maar sommige reken die 2007 oesjaar het ‘n sterk Mocca karakter. Voorwaar ‘n interessante wyn. Carpe Diem Pinotage handel teen R99 per bottel en die Diemersfontein Pinotage tene R68 per bottel.
Diemersfontein hou jaarliks ‘n Pinotagefees, Pinotage on Tap. Dit vind gewoonlik vroeg September plaas en bestaan uit ‘n dag gevul met piekniekmadjies, Pinotage en musiek. laasjaar was Prime Circle die vermaak, so definitief nie iets om mis te loop nie.
Vir meer inligting, besoek www.diemersfontein.co.za