Feeds:
Bydraes
Comments

Die einde is in sig…

Oor 2 dae,10 September 2008, kom die wêreld tot ‘n einde, of dit is ten minste wat ‘n seker groep probeer sê het in ‘n aansoek by die Europese Menseregtehof om die aktivering van die LHC te stop. Wetenskaplikes poog om ‘n botsing te veroorsaak wat die tydperk direk na die Oerknal naboots. Niemand weet wat die uitkoms van hierdie eksperiment gaan wees nie, selfs nie die wetenskaplikes wat dit aanpak nie.
So maak julle reg. Gaan wild. Hou ‘n groot opskop môreaand, want die einde is in sig.

link:www.youtube.com/watch?v=cGqroT1FZ5Y

Mev Rendier het ons onlangs verras met ‘n naweek weg na die White Water Lodge net buite Stanford. Vrydagmiddag vroeg het ons sak en pak die pad Overberg toe aangepak. Nina het mooi soet agter in die kar gesit en met Barney in my agterkop het ons die stof pad na die lodge bereik. Nina was verskriklik opgewonde oor die koeie, skape en bokke langs die pad. Die lodge self het ‘n paar dwerg perde wat baie vriendelik is.

Daar aangekom en ons word begroet deur die mooiste blyplek wat ek in ‘n lang tyd gesien het.

Die luukshede in die 1846 House is onbeskryflik. Die kamers is pragtig uitgelê, met en suite badkamers. Die kuier areas is enorm groot met ‘n lekker kaggel vuur(en oorgenoeg hout) om jou deur die natste, koudste aande te kry. Die kombuis is enige kok se droom!

Die lodge het ook 3 damme met reënboog forelle en kleinbek baars in en daar is ‘n ook ‘n gedeelte van die Kleinrivier wat beskikbaar is om vir kleinbek baars te hengel. Ander aktiwiteite bestaan uit staproetes, quad bike uitstappies en net doodgewone ontspanning. Die gronde huisves heelwat voëls, waaronder 3 visarende. 

Die hengel is nie die moeilikste nie, maar met die weer wat ons oor die naweek beleef het, was dit nie die maklikste plek om ‘n vlieg deur die lug te stuur nie. Ons was gelukkig die ergste van die storm gespaar, so Vrydagmiddag en Saterdag kon ons die water aandurf. Sondag was die storm in volle swang en moes ons koers kies huistoe.

Gaan maak gerus ‘n draai by die White Water Lodge. Dis ‘n naweek weg wat enige siel sal verkwik.

Skandaal?

Ek het nie veel van die Olimpiese Spele gevolg nie, maar het wel van die Phelps-fenomeen gehoor. Nou steek daar ‘n lelike ding sy kop uit:

http://100thofasecond.com

Kan dit suur druiwe wees?

Goeie sportmanskap

Ek het die voorreg gehad om die afgelope naweek se toets op Nuweland by te woon. Die atmosfeer was tasbaar. Die djembas wat deur Vodacom uitegedeel was, het ook grotendeels hiertoe bygedra. Die verwagting was groot. Percy se 100-tal, ‘n eerste vir enige Springbok. Emosies was hoog, die gees onmiskenbaar.

Drie dinge het my egter die hêrrie in gemaak:

1. Die ou vrou langs my. Ek noem haar oud, want haar vel is verrimpeld gerook. Sy smyt waaragtig haar lekkergoed papiertjies op die gronad neer. Ek byt my lip, maar kon nie langer ‘n konfrontasie vermy nie. “Why do you do it?” Haar antwoord verstom my: “They’ve got to clean the stands anyway.”

My moer! Hoekom sluit jy jou kar as hulle in elkgeval die ruit gaan uitbiksem om iets te steel. Hoekom stop jy by ‘n verkeerslig? Hoekom stort jy as jy in elkgeval weer vuil gaan word? Die tipe houding kry my onder. As elkeen ‘n bydrae maak, sal die lewe soveel lekkerder wees.

2. Die local All Black ondersteuners. Waarvoor doen julle dit? Kry julle lekker om teen die gryn te wees. Hou julle van “gat krap”? Dis dieselfde klomp wat stoere Protea ondersteuners is…

3. “Bad” Brad Thorn. Hy’s ‘n harde speler en maak ‘n groot impak…baie soos Bakkies Botha in ‘n sin. Daarvoor het ek baie respek. Selfs sy geniepsigheid kan ek hanteer, maar as daar een ding is wat my onder kry, is dit onsportiewe gedrag. Met Kevin Mealamu se drie reg teen die einde van die wedstryd, het “Bad” Brad hom na die skare gerig en mildelik almal in hul MOER gestuur(“Up Your”). nie een keer nie, nie twee keer nie, maar drie keer. Vir wat? As jy op die veld is,. sal jy sekerlik deur die skare “abuse” word, maar regtig, is dit nou nodig om so aan te gaan? Min mense het dit egter gesien, net ons beskore paar op die hoof pawiljoen, maar ek dink tog hy behoort om verskoning te vra vir sy wangedrag.

Genoeg gekla vir die week. Kom ons beweeg aan.

Om ‘n label te dra…

Gisteraand kyk ons weer na die weeklikse uitsending van Move Abroad (a.k.a. Carte Blanche). Een van die insetsels handel oor die nuwe fenomeen: FREEMALES. [vrylik vertaal as (ver)LOS(te) VROUE :) ]

For crying in a bucket! Why would you want to wear a label! Is jy opsoek na ‘n identiteit?

Wat is ‘n Freemale? Dit is vroue wat kies om enkellopend te bly en op hul loopbane te fokus; die eertydse oujongnooiens, as jy wil, wat in die 21ste eeu inbeweeg het. As mens na die onderhoude luister, kan ek nie anders as om te wonder waarom hulle op ‘n identiteit aanspraak maak nie. Is daar nie genoeg “labels” daarbuite nie. Moet jy regtig iewers in ‘n vakkie pas?

Van die dames in die onderhoud, blameer mans vir die fenomeen. Mans dring immers daarop aan dat vrouens hulle natuurlik plek in die huishouding inneem en ‘n tuiste skep terwyl hulle jag. Daar is sekerlik sulke mans, maar het ‘n vrou dan nie die keuse met wie sy trou of haar lewe deel nie? Is ‘n vrou stom in ‘n verhouding?

Op ‘n vraag oor hoekom sy kies om enkellopend te wees, verduidelik die een dame dat ‘n verhouding jou keuses bemoeilik in die sin dat elke opsie eers uitgeklaar moet word met die ander helfte. Sekerlik nie? Is vertroue nie deel van ‘n verhouding se fondasie nie? Vat dit regtig ‘n halfuur om te besluit wat om vir aandete te kook/kry? Hoe goed ken jy dan jou anderhelfte?

Ek en vroulief het die episode gekyk en ons kon nie anders as om daaroor te lag nie. Is daar regtig soveel ongelukkige verhoudings daarbuite, waar die vrou onderdruk word en nie op ‘n gelyke met haar man/lewensmaat staan nie? Is daar regtig soveel stom anderhelftes daar buite?

Ek is dan sekerlik die gelukkigste mens op hierdie aarde. Ons het ‘n oop verhouding waar alles bespreek word, tog het ons die vryheid om te kan kies sonder die ander se “toestemming”.

Dit raak vir my duidelik dat daar vele verhoudings is waarin mense nie kommunikeer nie en sonder kommunikasie, hetsy verbaal of te nie, is enige verhouding verdoem. Enige verhouding kan verryk word deur kommunikasie. Ek daag jou uit om jou verhouding te maak werk.

NS: ‘Skuus as ek op enige van die (ver)LOS(te) VROUE se tone getrap het ;)

Einde van ‘n droom

Die Rendier is in rou. My droom lê aan’t skerwe. Vlieghengel is my passie en die afgelope jaar het ek kompeterend begin vlieghengel. Die leerkurwe was enorm, tog baie lonend. Ek het ‘n klomp ongelooflike vriende gemaak en heerlike herinneringe opgebou.

Die seisoen het op ‘n laagtepunt begin. My eerste riviersessie was teen Ian Lourens. Die weer het nie lekker saamgespeel nie en ek moes op die harde manier leer wat kompeterende hengel behels. ‘n Nulletjie het my in die gesig gestaar. Die res van die rivier sessies het ook nie in my guns geeindig nie, maar gelukkig het die nulletjie nie weer by my kom kuier nie.

 

Die stilwater sessie was oor ‘n naweek by Lakensvlei in die Mattroosberg gehou. Tot my spyt was dit oor Moedersdag en sonder selfoonontvangs, moes ek mooi trap om Mev Rendier en die res van die familie gelukkig gehou. Die naweek was ‘n fees. Die voorspelde reën het oor die nag uitgesak en buiten vir die koue, was dit ‘n droeë 2 dae op die water. Die geluksgodin het op my skouer kom sit en ek het die derde sessie gewen en ‘n algehele 2de plek vir die naweek behaal.

Die prestasie in die stilwater kompetisie het gelei tot my insluiting in die WP 3de span vir die Nasionale kampioenskappe wat op die Vaalrivier gehou word. Voorbereidings is reeds in volle swang; stokke aangeskaf en vliegies geknoop, maar heelaas, dis my nie beskore nie. Nasionale kampioenskappe word jaarliks tussen Oktober en November gehou en ongelukkig is dit “oestyd” hier by ons. Ek kan nie bekostig om nie by die werk te wees nie en moes my droom vaarwel roep.

Reality sucks!

Quote of the day

Trout are as much a part of South Africa as the oak trees are of Stellenbosch – not to be planted in wilderness areas where they do not already occur, but to be valued where they are established.

Ryan Weaver – Flywaters Jonkerhoek

Is dit regverdig dat die mens God speel?

Wat is eerlik jou antwoord hierop? Vir my is dit eenvoudig, tog wil ek die vraag bevraagteken. Waneer is die vraag van toepassing en op watter vlak?

Die oorsprong van my dilema is die beoogde uitwissing van uitheemse visspesies in sekere Kaapse riviere wat deel vorm van die Cape Floristic Region. CapeNature het ‘n projek van stapel gestuur om die inheemse en endemiese visspesies van hoofsaaklik riviere in die Cederberge te red van uitwissing. Riviere wat gebrandmerk is vir die projek is die Rondegat, Krom en die Suurvlei. Die Kromrivier in die Oos-Kaap is ook op dié lys. Kom ons fokus bietjie op die Wes-Kaap riviere.

Die 3 riviere in die Cederberge het almal tot ‘n meerdere of mindere mate 3 uitheemse spesies teenwoordig, naamlik Kleinbekbaars, Kaapse kurper en reënboog forrel. Tusen hierdie uitheemse spesies, is daar heelparty endemiese spesies teenwoordig, onder andere die rooi vlerkie (red fin minnow), met al sy variasies, en die rock catlet. Vna hierdie endemiese spesies is nog nie eens behoorlik beskryf nie en weet ons dus nie wat die werklike stand van sake is nie. Wat wel bekend is, is dat daar waar uitheemse spesies tans is, die endemiese spesies bykans nie meer bestaan nie.

Dinsdagaand was daar ‘n publieke vergadering vir alle belanghebbendes om bydraes te lewer vir die Omgewings impakstudie wat tans aan die gang is. Meer inligting is hier te vinde: http://www.envirofishafrica.co.za/pdf/CAPE%20Invasive%20Alien%20Fishes%20EIA%20Reports/Draft%20scoping%20report%20web%20compressed.pdf

By die vergadering het dit duidelik geword dat die fokus baie eensydig opdie uitheemse visspesies geplaas word. Ander faktore wat ‘n bydrae gelewer het tot die huidige stand van sake, het geen aandag geniet nie. Habitat verwoesting, onreëlmatige besproeiingspraktyke en dies meer het ‘n groter impak op die biodiversiteit van ons riviere as ‘n paar uitheemse visse, maar die taak is te groot om aan te pak, so die kleiner probleempies word eerste aangepak.

Hier is my probleem: Die voorgestelde metode om die visse uit te wis, is deur die gifstof Rotenone in die water vry te stel. Rotenone maak alles met kiewe dood, deur hulle te versmoor – dit ontneem suurstof. Die probleem is egter dat meer as net ‘n paar visse sal sterf. Daar is ‘n magdom insekte, bo en onder die water, wat ook deur dit aangeraak en uitgewis word. Hoeveel endemiese spesies goggas is daar? Baie meer as visse in die water. Ek is nie ‘n entomoloog nie, maar die bietjie wat ek nou al gesien het(en hard probeer namaak in my vliegies), dui vir my daarop dat die ‘n veel groter impak op ons insekte sal hê. Die rivier, of gedeelte daarvan, word as’t ware ‘n woestyn. Die argument is dat die insekte hulself sal hervestig met tyd, maar hoe lank dit sal neem weet niemand. Regverdig die doel om ‘n paar inheemse visspesies, regtig die uitwissing van ‘n hele stelsel, in die hoop dat dit weer sal terugkeer na wat dit was?

By die vergadering het ek die gevoel gekry dat dit bloot ‘n skynspel was om mense gerus te stel dat hulle opinies gehoor word. Ek het ‘n vrees diep binne dat die gifstof reeds aangeskaf is en die beoogde uitwissing reeds goedkeuring van die regering ontvang het. Ek het ‘n vrees, want die Wêreldbank bevonds die projek.

Ek is besorgd oor die uitwissing van endemiese spesies, maar help dit regtig om ‘n klein aspek aan te spreek, maar die groter geheel geniet geen aandag nie? Verstaan ons regtig die impak van ons dade?

So, wie gee ons die reg om God te speel?

Dis nat en Koud in die Kaap. Lekker rooiwyn aande, maar heellaas is daar siekte in die huis. Nina het middel-oor ontsteking/mangelontsteking, so die lewe is nie so fraai in lala-land nie.

Tot later
R

Nina se spesiale taal

« Newer Posts - Older Posts »